










Verenigende Gereformeerde Kerk Bredasdorp
-17 September 1914-
Die gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk Bredasdorp het in 1914 tot stand gekom nadat die NGK Bredasdorp eerwaarde Louis du Plessis beroep het om die bruin lidmate van die NG Kerk te bearbei. Vanaf 1881 tot 1914 het die NGK Bredasdorp nie toegegee aan enige eis om ʼn aparte gemeente vir bruin lidmate te stig nie. Eerw Du Plessis het binne 6 maande ʼn kerkgebou opgerig (wat vandag deel van die AGS se kerkgebou is), en die gemeente het vinnig gegroei. In 1922 het die gemeente deel geword van die NG Sendingkerk. Eerw Du Plessis het die gemeente vir 29 jaar bedien, en baanbrekerswerk gedoen, met verskeie skole op die dorp en op plase onder die kerk se beheer, wat hy opgerig het. Sy seun, dr Otto du Plessis, was administrateur van Kaapland, en die plaaslike hospitaal is na hom vernoem.
​
Na eerw Du Plessis het nog drie “eerwaardes” die gemeente bedien – eerw JJ Struwig, C de W la Grange en HC van den Berg. In eerw Van den Berg se tyd het die eerwaardes volle status as leraars gekry, en sy status het verander na ds Van den Berg. Ook in sy tyd moes ʼn nuwe kerkgebou opgerig word, as gevolg van die groepsgebiedewet, en omdat die ou kerkgebou te klein geword het. Die huidige kerkgebou is in 1961 ingewy.
​
Ds Van den Berg is opgevolg deur ds BP Visser, wat steeds onthou word as ʼn baie streng, maar dinamiese leraar. Hy het die kerksaal laat bou, en die plaasbediening uitgebou. Na ds Visser het die predikante mekaar vinnig opgevolg. In 25 jaar het die gemeente 6 predikante gehad – di MC Franken, LD le Roux, E Kritzinger, J van Rooyen, JG Rossouw en HJ Strydom. Die pastorie is verkoop in ds Kritzinger se tyd, en die gemeente moes huise huur vir die verblyf van di Van Rooyen en Rossouw. Die huidige pastorie is aangekoop met ds Strydom se koms. Die afgelope 22 jaar is die gemeente bedien deur die huidige leraar, ds B Leuvennink.